die CONRADIE familie

 van Suid-Afrika



the CONRADIE family

from South Africa



MARBURG

Basiese inligting oor Marburg kan op Wikipedia gekry word.

Ou muntstukke staaf dat dit reeds in 1140 'n dorp was. 

Marpurg

MARBURG in 1650 (hier gespel as "MARPVRG") aan die Lahn-rivier. Die beeldwerk is geskep deur Matthäus Merian die ouere en is nadoods deur sy seun met dieselfde naam gepubliseer.

1527 Marburg Universiteit

Marburg is die setel van die oudste Protestants gestigte universiteit - die Philipps-Universität-Marburg dateer vanaf 1527. As 'n staats-universiteit het dit egter vandag nie meer enige religieuse affiliasie nie. Dit het ongeveer 20,000 studente en 'n personeel van 7,500 in 'n dorp met minder as 80,000 inwoners, wat van Marburg die spreekwoordelike studente dorp maak.


In 1529 het Philipp I van Hesse 'n vergadering tussen Martin Luther en Huldrych Zwingli in die Marburg kasteel gehou om die geskille die Avondmaal te probeer besleg.

Marbrug omgewing
In die Marburger Sippenbuch word vir die Conradie voorgeslagte na hierdie plekname in die omgewing van Marburg verwys - ons Duitse voorgeslagte het uit hierdie omgewing gekom. Die verste naspoorbare voorsaat het van rondom die jaar 1600 van Allendorf gekom.

Een plek wat vir seker deur alle Conradies wat die voorreg het om deur Marbrug te reis, besoek word, is die klein kerkie (St Martinskirche) in die voorstad Wehrda waar die voorvader se vader, Johann Henrich Conradi van 1669 tot 1688 Lutherse predikant in Cölbe en Wehrda was, twee dorpies digby Marburg wat nou deel van die stad is.



Hier volg nou Hennie & Mildred Conradie se opsomming van 'n besoek aan Marburg ongeveer in 2002: "Marburg is 'n kleinerige dorpie ongeveer 'n uur se ry per trein vanaf Frankfurt. Dit is in die noordelike gedeelte van die provinsie Hessen geleë. Marburg is vandag nog bekend vir sy studente en natuurlik die Universiteit. Dit klink my meer as 50% van die inwoners is studente."

"Ons stamvader - Friedrich Henrich Conrady - was ingeskryf by die Marburgse Gimnasium. Of dit skool of Universiteit beteken, weet ek nie. Sy vader was 'n Predikant (Fahrer) by die ou Lutherse kerkie (waar ek voor die kerk staan). Vandag is dit sover ek weet nie meer 'n Lutherse kerkie nie. Die kerkie is in Wehrda geleë: destyds 'n klein dorpie maar vandag deel van Marburg - mens sou amper kon sê 'n voorstad. "

"Die linkerkantste foto met die Franse vlae wys die ou Rathaus. Regs daarvan is 'n foto van Mildred by 'n binnehof in die Marburgse Kasteel (Schloss). Links onder is 'n kerk afgeneem op ons soektog na die ware Jakob - en regs onder natuurlik die einste kerk. "

"Wat my getref het by die kerkie, was 'n standbeeld van 'n Duitse kryger op die grasperk. Mans en seuns uit die gemeente wat vir hulle volk gesterf het tydens die Eerste Wêreld Oorlog, word so onthou. Die kerkie is teen 'n heuwel aan die voet van 'n woud - en omring deur klein boerderye (ja - in die dorpie). Mens ruik net beesmis en melk sover jy stap! Nogal 'n lekker Boere-gevoel. Die 'gebroeders' Grimm het ook aan die Universiteit by Marburg studeer - en daar heelwat van hulle bekende sprokies geskryf. Na 'n wandeltog in die woud en om die kasteel (wat oor die dorp troon) kan mens jou goed indink hoe alles in die tyd van die Grimm-broers moes gelyk het."

"Ek beveel Marburg sterk aan by alle Conradies!"
In 2010 (foto) was Pfarrer ("dominee") Armin Wehrmann steeds (Hennie-hulle was ook in 2002 by hom) leraar by die evangeliese Martinskerkgemeente in Huteweg 4 in Wehrda. Hy kon toe bereik word op telno's  (0 64 21) 8 24 84 of (01 77) 8 37 55 02. Op 21 Feb 2011 was sy epos adres: Armin.Wehrmann@ekkw.de


Die toring uit die 14de eeu is redelik onlangs deur 'n spesialis firma met bouklip en materiaal uit die omgewing gerestoureer, en toe het die horlosie ook 'n nuwe wyserplaat gekry.

In Februarie 2012 besoek Charl Conradie (hulle woon nou in Nederland), sy gesin en sy ouers die St Martinskirche in Wehrda - hulle neem ondermeer foto's binne-in die kerk:


Op pad na die kerk. Regs is die waarskynlike eertydse pastorie - ongelukkig geen grafte rondom die kerk nie. (foto: Charl Conradie)


Die skip van die kerk is heelwat later gebou as die oorspronglike toring wat eers 'n verdedigingsfunksie gehad het. (foto: Charl Conradie)

By die ingang van die kerk kan die 2 meter dikke mure van die ou verdedigingstoring gesien word. (foto: Charl Conradie)

Die goue altaar dateer uit die jare 1500's (foto: Charl Conradie)

Die groot klok dra die datum 1300. Ongelukkig het die hegstuk bo-aan in 1986 gebreek - die klok het toe geval en gekraak. (foto: Charl Conradie)

Ander klokke in die toring dateer uit die jare 1500. (foto: Charl Conradie)


Hierdie uurwerk uit die jare 1700's is nou in onbruik. (foto: Charl Conradie)

Toe WEHRDA nog 'n dorpie was

"Als Wehrda noch ein Dorf war"

(foto-artikel in Duits deur Karl-Heinz Töpfer)

Die dorpie WEHRDA, vandag met meer as 6000 inwoners, word sedert 1974 ingesluit by die groter Marburg. Wehrda is geleë aan die Lahnrivier noord van Marburg se kerngedeelte. Mense kom graag in Wehrda aangesien daar nou 'n verkeersvriendelike inkopie-sentrum is, en dit is ook 'n gesogte woongebied met 'n verhewe uitsig oor die Lahnrivier asook die teenoorliggende Lahnberge.

Tenspyte van jonger geboue, is die ou dorpskern van Wehrda steeds duidelik herkenbaar. Dit toon die dorpie se meer as 750 jaar geskiedenis. Die toring van die Martinskirche was oorsponklik die uitkyktoring van 'n verdedigingsvesting wat die dorpie teen vyandighede moes beskerm - die verdedigingsmure, kompleet met skietgate, omring nog die kerkie - die huidige kerkgebou teenaan die toring dateer vanaf 1774.

Uit die lug 2
Die skaduwee van die Martinskirche sigbaar byna in die middel

Uit die lug 1
Die ou verdedigingsmure wat die kerkie omring is hier sigbaar



Wehrda
Die kerkie is 'n landmerk in Wehrda

wehrda


Met die eerste aandlig


Die horlosie het pas die kwartier geslaan


Die "afronding" op die toring


Die begraafplaas rondom die kerkie het geen gemerkte grafte


Een van die kerkvensters


Die Martinskerkie is in 1769-74 in sy huidige vorm gebou. Die oorspronklik (uitkyk-)toring stam egter egter uit die 14de eeu.
 

Hierdie detail is ingebou in die kerk se muur, en is sigbaar regs van die deur in die foto bo dié een. Die eerste gedeelte lees Anno DM vir "Anno Domini" Die res lees: M*CCCC*LXXXX wat dan as die romeinse syfers vir 1490 gelees word. Dit stem ooreen met die datum wat die historikus Otto Immel aangee. Dit was waarskynlik die datum wat die eerste kerk teen die toring opgerig is. Die toring is nog ouer en was eens die uitkykpunt van 'n verdedigingsvesting.






'n Monument in die kerktuin wat WO I soldate gevallenes uit Wehrda gedenk. Hennie Conradie maak ook hierbo daarvan melding.




Deel van die verdedigingsmuur


Een van die skietgate in die verdedigingsmuur



Die Martinskerkie in Wehrda was voorheen bekend as die St. Annenkerk. Na ons stamoupa in die 16-honderds by die kerk in predikant was, is die kerkgebou in 1774/75 tot teen die oorsponklike verdedigingstoring afgebreek en nuut oorgebou in die vorm wat 'n mens dit vandag sien.




Dec 2011: Page designed and created by Piet Conradie;