die CONRADIE familie

 van Suid-Afrika



the CONRADIE family

from South Africa



NAVORSING

1954 VOORWOORD TOT DIE CONRADIE-GESLAGREGISTER
deur die opsteller H.L.N Conradie

 Die gegewens van hierdie werk is in die eerste plek gevind in De Villiers se Geslagsregister van ou Kaapse Families, wat baie Conradies aangee tot aan die begin van die l9de eeu, maar waar daar ook baie name en gegewens ontbreek. Vir 'n paar aanvullings hier is ek verskuldig aan Dr. Hoge van Stellenbosch. Die groot taak was egter om die periode van meer as 'n eeu te oorbrug en in diè tyd het die Conradies baie vermenigvuldig en oor die land versprei. Private persone is besoek, wat altyd gewillig was om te help. Predikante en Kerk-scribas was gewillig om die kerkboeke tot my beskikking te stel. Maar by dit alles het dit oneindig baie korrespondensie geverg en baie persone was gewillig om my briewe te antwoord. Aan al hierdie persone en liggame wens ek my dank te betuig.

 Maar die foute is dan ook nie almal myne nie. Vaders maak dikwels foute met hulle kinders se geboortedatums en selfs die kerkboeke bevat foute. 'n Geslagsregister sal altyd onvoltooid bly. Ek laat dan die voortsetting en verbetering aan andere oor. Baie gegewens kon ongelukkig nie aangeskakel word nie. As ek miskien aan sekere mans verkeerde vrouens gegee het, is dit daaraan te wyte dat daar so baie mans met dieselfde naam is, soos Pieter Jacobus of Alexander Floris.  Ek het daarin geslaag om sowat 4000 name hierin op te neem, maar weet dat daar minstens nog 'n duisend moes gewees het, wat ek graag sou wou byvoeg, maar nie kon nie.

Begin 1931 - 1e uitgawe voltooi 1954.
 


VOORWOORD 1978-UITGAWE

deur die opsteller H.L.N Conradie

 Die Register soos in 1954 gedruk se name is alles in 1969 deur my oorgetik en baie gegewens is bygevoeg. In 1974, toe ek byna 85 jaar was, het ek besluit om die taak weer op groot skaal aan te pak.

 Gedurende 'n kuier by my kinders op Bloemfontein, het ek die kerkargief deursoek vir Conradie-geboortes. Toe ek tuiskom op Parys, kon ek baie gegewens nie aanskakel nie. Ek het toe 'n beroep in Die Volksblad op Conradies in die Vrystaat gedoen om te help, maar toe die antwoorde maar skraal was, het ek 'n omsendbrief aan al die Conradies van die telefoongidse - meer as 600 - gestuur.   Dit het goeie reaksie uitgelok. Maar die Conradies is so wyd versprei deur die jare dat daar nog baie is wat ek nie bereik het nie of wat nie tyd gehad het om te antwoord nie. Baie dankie egter aan diegene wat wel so familiebewus was, dat hulle die moeite gedoen het om te help.

 My tyd word kort. Ek het reeds op 8 Mei skielik 'n beroerteaanval in die kerk gekry sodat ek tot 'n groot mate verlam was. Maar in antwoord op gebed het ek wonderlik herstel, sodat ek die afgelope week weer baie gegewens kon aanlas.

 Die Geslagsregister en al my geskrifte oor Conradies wat ek geken het, bemaak ek aan Die Werda Komitee, wat ek vertrou, my werk sal voortsit.  Groete van Oom Hennie.

PARYS 4.6.1975.

Die Conradie-lêer is in my besit maar die belangrikste gegewens is saamgevat in die boekie "Conradie-Saamtrekke".

BEN CONRADIE.
25.4.1978.


I N L E I D I N G

deur die Werda-komitee

 Die Werda-komitee is in staat gestel om hierdie geslagsregister te publiseer deur die vriendelike hulp van 'n vyftal Conradies wat die uitgawe ruim geborg het.   Hiervoor word hulle opreg bedank.

 Die fondse wat opgebou word deur die verkope van die register sal aangewend word vir die organiseer van die groot Conradie-fees in 1985 wanneer die familie reeds 300 jaar in Suid-Afrika sal wees.

 Die register word gedruk soos deur oom Hennie opgestel. Dit was 'n eenmanspoging waarvoor ons en die nageslag hom nooit na waarde kan dank nie.  Dis sy monument.

 Die hoop word uitgespreek dat 'n jonger geslag die manne sal lewer wat die register verder sal uitbou en aanvul en veral sal konsentreer op die oorspronge van die Conradies voor 1685.

 Voordat die leser by die geslagsregister kom, veroorloof die Werda-komitee hom die vryheid om enkele historiese besonderhede by te voeg.

 Die komitee wil ook waarsku dat die register, soos alle registers van die aard, nie volledig is nie.  Die opsteller verstrek self die rede vir die stand van sake.   Gebruik dan ook U kopie om U eie familie aan te vul en te bewaar vir die nageslag.   Die Werda-komitee sal dit waardeer as sulke aanvullings onder sy aandag gebring kan word.

 Ons hartelike dank ook aan Mev. Susan Geldenhuys van die Strand wat die tikwerk en kontroleerwerk met aansteeklike en besielende ywer gedoen het.

 Mag U geloof gesterk word deur die wete dat die Conradies vir byna 300 jaar hier in Suid-Afrika deur ons Hemelse Vader bewaar en gebruik is.

Ben Conradie,
Sameroeper, Werda-komitee,
Maraisstraat 58,
STRAND.
7140.

24 April 1978.


DIE CONRADIES SÊ DANKIE !


 Die lede van die Werda-komitee wat nie betrokke nie nie, het voorgestel dat die volgende in die geslagregister opgeneem word:-

"Hierdie Geslagregister sou nie moontlik gewees het nie as die volgende vyf Conradies nie die druk van die register gefinansier het nie en besluit het dat die geld wat deur die verkoop van die register geïn word in trust geplaas word vir die organiseer van die 300-jarige fees in 1985:-

     Zulch Conradie, Prince Alfred Hamlet,
     Frans Conradie, Kaapstad,
     Willem Conradie, Uitenhage,
     Danie Conradie, Prince Alfred Hamlet,
     Ben Conradie, Strand"


KORT  LEWENSKETS  VAN  H.L.N. CONRADIE.

skrywer onbekend

 Gebore op 14 November 1889 op die plaas Elandsrivier, Prince Alfred Hamlet. Toe hy sewe jaar oud was, het sy pa na Prince Alfred Hamlet getrek. Daar is hy in 1902 oorlede en sy moeder in 1913.

 Oom Hennie het St. 7 op Prince  Alfred Hamlet geslaag en daarna drie jaar op Ceres skoolgegaan waar hy die Junior Sertifikaat, Matriek en Pupil Teachers (T.C3) deurloop het (1907-9). In 1910 is hy na Stellenbosch waar hy die B.A. verwerf het.

 Hy het in 1914 op Caledon skoolgehou, was skoolhoof op Koppies vir ses maande in 1915, op Ficksburg 1917-22  skoolhoof op Excelsior 1923-27, skoolhoof op Luckhoff 1928-49, Saakgelastigde op Viljoenskroon 1950-1, onderwyser aan die Stofberggedenkskool 1952-59.  Hy het vir die tweede maal op Parys afgetree. Kolportasiewerk gedoen vir die N.G.K. Boekhandel tot sy motor in 1969 ingegee het.

 Hier het hy sy eie tuin van 3/5 morg self bewerk tot sy vrou se been gebreek het en hulle na die Huis vir Bejaardes gegaan het. Op 1 Mei 1974 is sy oorlede en op 22 Februarie 1975 is oom Hennie weer getroud met wed. A.C. Steyn (sy eerste vrou met wie hy 52½ jaar saamgeleef het was Mary Ann van Heerden).

 Vanaf 1931 het hy 'n leidende aandeel geneem in die organiseer van vier Conradie-feeste en die opstel van die Geslagregister. Eers het hy al die afstammelinge van sy oupa Daniel Jacobus opgespoor en in 'n boekie laat druk en toe in 1954 die geslagsregister van net Conradies laat druk en verder voortgegaan met aanvullings tot 1975.

 'n Ander stokperdjie waarmee hy op Parys begin het, was tapisseriewerk waarvan hy 22 stukke gedoen en toe na kelim oorgeslaan het en in sy 87ste jaar nog 'n paar stukke voltooi het.

 Ook het hy al die tyd volgehou met jukskei speel wat baie tot sy gesondheid bygedra het. Oom Hennie sê: "alles is genade" en aan genade het hy ook sy wonderlike herstel na 'n beroerte-aanval verlede jaar in Mei te danke. 0om Hennie getuig: "Hy het my gedra deur armoede en moeilikhede wat volop was, omdat ek 'n swakkeling was, maar Sy krag is in my swakheid volbring".

DIE ONTSTAAN DIE CONRADIE-REGISTER.

deur die opsteller H.L.N. Conradie.

 Toe my neef, dr. David Gideon Conradie, omtrent 1907 van Dublin teruggekeer het, het hy 'n sterk nasionale gevoel gehad. Hy was ten gunste daarvan dat Afrikaans verhef word tot skryftaal. Dit weet ek omdat hy eendag op Koelfontein se stoep my die koerant ... ek meen dit was "Ons Land" gewys het waar hy sekere uitdrukkinge onderstreep het, wat, volgens hom, nie Nederlands was nie, maar 'n brousel van Nederlands en Afrikaans. Waarom kan ons nie ons eie taal skryf nie? Hy het my binne 10 minute bekeer tot A.T.V. en toe ek in 1910 op Stellenbosch kom, het ek by die A.T.V. aangesluit, al was hulle 'n klein minderheid wat egter vinnig gegroei het. Neef David het 'n paar toneelstukke in Afrikaans vertaal bv. Piet Se Tante (Charly's Aunt).

 Maar neef David was ook bewus daarvan dat ons Conradies 'n familie in eie reg is, en hy wou die Conradie-geslagsregister opstel. Ek het in 1907 op Ceres by my oupa se halfbroer "Oom Dik Piet" en Tant Miemie loseer. Hulle het 'n register in hul Bybel gehad van hulself en hul kinders en ek moes dit vir neef David afskryf. Wat van die afskrif en die register geword het, weet ek nie; want toe ek later met die register begin het, was beide nie te vind nie. Jare het verbygegaan en ek het niks weer gehoor van die geslagregister nie.

ONS  EERSTE  CONRADIE-FEES.

 In die begin van 1931 was ek op ons familieplaas, Koelfontein, Ceres en daar het ek gehoor dat dit in 1932 100 jaar sou wees dat Oupa Danie die plaas gekoop het. Neef David wou hê dat ons dit feestelik vier. Hy was toe Administrateur van S.W.A. en kon nie self teenwoordig wees nie en wou hê ek moes die leiding neem. Hy het dan ook sommer 'n soort program opgetrek vir 'n eendaagse fees. Ek meen dit was by die geleentheid dat hy vir my 'n afskrif gegee het van die Conradies uit de Villiers se Geslagregister.  Ek het onderneem om al my oupa se afstammelinge op te spoor en het die 406, plus aangetroudes, in 'n boekie laat druk tot beskikking van die feesgangers.  Dit het eers die afstamming van Oupa van ons Duitse stamvader getoon en dan Oupa se afstammelinge.

 Ek het 'n gedenkplaat laat maak wat in die muur by die voordeur ingemessel is met die destydse muntstukke, met 'n lys van al die Conradie-familielede wat die fees bygewoon het en 'n ander lys van al die besoekers wat teenwoordig was.

 By die verrigtinge is daarop gewys dat die plaas Nu Munster, naby Wolseley, nog langer in die familie is en ook is versoek om daar ook 'n fees te reël. Die eienaars van Nu Munster, wat ook Koelfontein se fees bygewoon het, het glad nie daarvoor kans gesien nie. Ek het later besluit om al die Conradies bymekaar te roep en wel in Desember 1939 in Die Strand, waar elkeen vir sy eie losies kon reël. Ons het dit Die Kwart Millenium-fees genoem, omdat ons gemeen het dat die stamvader in 1688 saam met die Hugenote aangekom het. Later het ons uitgevind, ek meen deur dr. Hoge, dat hy reeds in 1685 aan wal gestap het. [Maar in 2011 het dit bekend geword dat die stamvader eers in Januarie 1689 aan wal gestap het - Piet]





Dec 2011: Page designed and created by Piet Conradie;