die CONRADIE familie

 van Suid-Afrika



the CONRADIE family

from South Africa



Eerste Duitsers aan die Kaap (1652-1806)


Duitsers wat na die Kaap gekom het in die tydperk 1652-1806 - vryelik uit Engels vertaal van Linda Zöllner se artikel in Familia 35/1998 No. 4. Volle erkenning word hiermee aan Linda Zöller en Familia gegee as die oorspronklike bron van hierdie inligting.

Ten minste een Duitser, Jacob Cloete, het saam met Jan van Riebeeck na die Kaap gekom, en volgens Hoge in Personalia of the Germans at the Cape, was daar ongeveer 15000 wat aangekom het gedurende die periode van die Hollandse administrasie aan die Kaap, maar nie almal het aangebly nie. Jacob Cloete, of Jacob Cloutten van Köln, was 'n kleurvolle mens wat tragies gesterf het toe hy op 'n aand in 1693 in 'n Kaapstadse straat vermoor is. Die Duitse immigrante het van al die destydse Duits-sprekende state gekom. Die meeste het egter van die westelike gedeelte van Europa en die binneland gekom; die kleinste groep van Bavaria en Oostenryk. Die verklaring hiervoor was dat die suidelike Duitse state oorwegend Katoliek was, terwyl die noordelike state, van waar die meeste immigrante gekom het, oorwegend Protestants was. Die godsdiens bande tussen die Duitse grensgebied en Nederland was 'n sterk koppeling. 'n Aantal predikante wat na die Kaap gekom het was van Duitse afkoms, bv. die dominees Arnoldus Mauritius Meiring van Lingen. E. Arentsz van Emden, Meent Borcherds van Jemgum (oostelike Friesland), H.W. Ballot van Iserlohn en Petrus Kalden van Wesel.

Die Dertigjarige Oorlog (1618-1648) het baie van die Duitse state in 'n swak ekonomiese staat gelaat. Gevolglik is baie Duitsers, insluitende oud-soldate, deur die voorspoed van Nederland aangetrek. Politiese grense was vir die mense in die grensgebiede nie 'n ernstige skeiding nie, en uit 'n taalkundige oogpunt was daar min verskil tussen Duits en Hollands. Dit was besonderlik waar van die streekdialekte in oostelike Nederland en westelike Duitsland, waar 'n sterk Saksiese invloed gegeld het. Daar is vandag steeds min verskil tussen die Plattdeutsch (Platduits) wat in Duits-Friesland en die Hollands wat in provinsies soos Groningen gepraat word.

Die eerste Duitse immigrante was hoofsaaklik soldate in die diens van die Holland Oos-Indiese Kompanjie (HOIK), maar sommige het hul ontslag reeds so vroeg soos 1657 geneem om Vryburgers te word. Duitsers wat nie meer in die diens van die HOIK was nie, het nie almal op landbou, soos die meeste Hollandse Vryburgers en die Franse Hugenote wel gedoen het nie, maar het begin om 'n aantal ambagte en professies te beoefen. Spoedig was daar Duitse kleremakers, skrynwerkers, messelaars, boukontrakteurs, skoenmakers, ystersmitte, kopersmitte, geweersmitte, silwersmitte, meulenaars, bakkers, landmeters, aptekers, tuiniers en dokters aan die Kaap. Ongeveer die helfte van die geregistreerde privaat onderwysers onder die Hollandse regering, was Duitsers. Verskeie ou geboue wat deur Duitsers opgerig is, staan steeds, en silwerware wat deur Duitsers gemaak is, is gesog by versamelaars van ou Kaapse silwer.

Duitse dames het alleen met uitsondering na die Kaap verhuis, met die gevolg dat die meeste Duitse mans met Hollanders en Franse dames getroud is. Duitse bloed het gou met Franse en Hollandse bloed vermeng. Die Duitse taal het plek gemaak vir Hollands, veral omdat, soos reeds genoem is, die Platduits wat die setlaars gepraat het, in iedergeval naverwant aan Hollands was. Ondertrouery tussen die kinders van sulke huwelike het die vermenging versnel, en Duits is dus al minder en minder gehoor, veral omdat Hollands die amptelike taal van die kolonie was. Daarby was die Duitsers versprei tussen die Hollandse setlaars wat die binneland bewoon het - hulle het dieselfde belange gehad en dieselfde terugslae beleef. Hierdie Duitsers het dus spoedig hulle eie identiteit verloor en op alle vlakke met die Hollanders gemeng. Dit word algemeen aanvaar die manier waarop die Duitsers en Franse Hollands gepraat het 'n beduidende rol gespeel het in die ontwikkeling van Afrikaans. 'n Goeie voorbeeld is Joachim Nicolas von Dessin, sekretaris van die Weesheer en boekversamelaar, uit wie se korrespondensie dit nouliks blyk dat hy 'n gebore Duitser was. Sy boekversameling het deur sy bemaking die eerste openbare biblioteek in Suid-Afrika geword.

Gedurende die 17de eeu het die volgende bekende Suid-Afrikaanse families stamvaders van Duitse afkoms gekry: Albert Barentsz Gildenhuys van Bergen-Steinfurt, Diederik Janz Putter van Zierenberg, Barend Bürger van Lübeck, Jan Wessels van Hamburg, Matthys Greef van Magdeburg, Hendrik Venter van Hameln, Jan Herbst van Bremen, Jan Oosthuysen van Werden, Boij Booysen van Barlt en Frederik Conradie van Marburg.

Bronne

  • Hoge, J. Personalia of the Germans at the Cape 1652-1806. Archives Yearbook for South African History, 1946.
  • Lantern Special Edition: The German contribution to the development of SA. Feb. 1992.
  • Moritz, E. Die Deutchen Einwanderung in die niederlandishe Kapkolonie. 1652 - 1806. Ludwigsburg, 1943.
  • Moritz, E. Die Deutchen am Kap unter der hollandiche Heerschaft. 1652 - 1806. Weimar, 1938.

Vertaal deur Pieter Conradie en opgestel 14.1.1999






Dec 2011: Page designed and created by Piet Conradie;