AFDRUKKE VAN BLEIBAUM KORRESPODENSIE
met oud-onderwyser skrywer Ben Conradie
van die Strand in 1976 en 1977
In November 1975 het 'n selfopgeleide genealoog, die Duitser Hans-Georg Bleibaum, in die Strand 'n besoek gebring aan Ben Conradie, toe die sameroeper van die Conradie Werda-komitee. Dit is duidelik dat Ben by daardie geleentheid die behoefte, om meer van die Europese herkoms van die Conradies te weet, aan meneer Bleibaum geopper het.
Meneer Bleibaum was 'n lid van die Duitse instituut vir genealogie - by name "Sentralstelle für Personen- und Familiengeschichte" wat reeds in 1904 gestig is. Hy was die navorser in die afdeling vir Suid-Afrika ("Sektion für Südafrika") wat hy self gestig het om aansien aan sy werk te gee, en het 'n besondere belangstelling gehad in die geskiedenis van Duitsers wat na die Kaap geëmmigreer het - en het dus ook sy navorsing gedoen in samewerking met die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA), en by sy dood op 81 jaar op 23 Desember 1998 in die stad Hameln, Duitsland, was hy 'n erelid van die GSSA.
In Duitsland het Hans-Georg Bleibaum vroeg in sy lewe as amptenaar in die administrasie van die Lutherse Kerk begin werk. Later, tydens sy verblyf in die destydse Suidwes-Afrika, waar hy in diens van sy kerk gewerk het, het hy opgemerk dat vele Afrikaanse families se vanne van Duitse afkoms was, en het hy, nadat sy dienstydperk verstreke was, na Duitsland teruggekeer, waar hy begin het om navorsing oor die herkoms van die Suid-Afrikaanse Duitse families te doen. Vanaf 1970 het hy oor 'n periode van 25 jaar onvermoeid gehelp met navorsing oor 'n lang lys van Suid-Afrikaanse vanne met Duitse stamvaders. Al hierdie werk het hy sonder enige vergoeding gedoen. Dit was vir hom voldoende beloning wanneer hy die Suid-Afrikaanse nasate van 'n familie met hulle Duitse voorouers kon koppel en verder terugspoor. Dit was altyd vir hom 'n groot geleentheid wanneer hy die resultate van sulke navorsing aan verteenwoordigers van die plaaslike familie kon oorhandig.
Een van die vanne was CONRADIE. In Mei 1976 het meneer Bleibaum in 'n brief aan Ben Conradie berig dat hy 'n uitstekende navorsingsresultaat met die "Conradi-geslagte in Duitsland" behaal het deur op die gebied Hessen-Marburg te konsentreer - en dat hy ten minste 3 geslagte opgespoor het, en dat hy van plan was om 'n artikel oor die Duitse Conradi voorgeslagte en Suid-Afrikaanse nageslagte vir die Duitse genealogiese tydskrif op te stel. Hy het gehoop om die navorsing deur die loop van 1976 te voltooi, en sou in 1977, met sy volgende verlof in Suid-Afrika, die resultaat aan die Conradie-familie oordra.