Nog 'n
verrassing in mr. Bleibaum se navorsingstuk,
is die voorkoms van die woord "Wehrda". Ons weet dat een van
ons
stamvader Friederich se plase die naam Werda gekry het, en daarna het
dit
'n tradisie geword om die naam aan Conradieplase toe te ken.
Die
leser sou reeds gemerk het dat die Conradie familie se belange behartig
is deur die Werda-komitee (nou die Conradie-familiebond) en dat die
leuse
wat op die bondswapen verskyn "WERDA" is.
HAT beskryf
'werda' as 'n woord van Duitse afkoms wat
gebruik word as 'n uitroep van 'n militêre wag - betekende:
"Wie's
daar?" In hierdie sin sou dit 'n goeie betekenis wees vir 'n komitee
wat
die bekende en onbekende lede van 'n familie moet vind en uitsorteer,
en
waaksaam oor die familie se belange waghou. Die betekenis maak egter
nie
sin om te verduidelik waarom Friederich Conradi hierdie naam aan sy
plaas
sou gee nie.
Dit kan wees
dat Friederich se plaasnaam 'Werda' 'n ver-Hollandsing
is van die Duitse naam 'Wehrda', wat verwys na die klein dorpie Wehrda,
buite die stad Marburg, waar Friederich se vader Johann
Henrich predikant was tot 1688.
Wehrda was in daardie tyd waarskynlik
nouliks meer as 'n kerk omring deur 'n relatiewe digbevolkte
landbougebied.
Mense het die
gebied Wehrda reeds sedert die steentydperk
bewoon, en dit word die eerste keer in 1232 vermeld. Daar was reeds
lank
'n vesting "Weißenstein" wat in 1249 ineengestort het. 'n
Deel van
die dorp se beskermingsmure dateer uit die 15de eeu. Wehrda moes ook
aan
die eienaar van die kasteel in Marburg dienste lewer - in 1751 is bv.
209
werkdae gelewer. In 1974 is Wehrda by Marburg ingelyf.
Die naam
'Wehrda' stam af van die Oudhoogduitse woord
'werid' wat 'klam grond aan 'n rivieroewer of op 'n eiland' beskryf. In
die geval van Wehrda by Marburg beskryf dit die gebied tussen die Lahn-
en Mühlgartenriviere. Dit is dus aanneemlik dat Friederich aan
hierdie
gebied kon gedink het toe hy sy plaas hier in Drakenstein die naam
'Werda'
(ver-Hollandsing) gegee het.