|
STAMVADER
Met die hulp van Argiefrekords wat sedert die jaar 2000 via die Internet globaal algemeen beskikbaar gekom het, kry ons nou, meer as 320 jaar na die koms van Friederich Co(e)nradi(j) na die Kaap, nuwe perspektiewe op sy eie lewe, dié van sy vrou en sy kinders. Hierdie nuwe inligting weerspreek soms vorige inligting, maar in regverdigheid moet onthou word dat ons geëerde voorgangers nie toegang tot hierdie magdom nuut geordende inligting gehad het nie. Die eersvolgende inligting hieronder is so ver moontlik chronologies geplaas:

Stamvader Friederich Conradij, wat in Marburg skoolgegaan het, het sy naam so geteken - aan die Kaap het sy van verhollands na Coenraad of Coenradi
- Friederich Henrich Conradij, die Stamvader van die Suid-Afrikaanse se Conradie familie, is in 1668 in Marburg (teenswoordige Duitsland) gebore. Die presiese datum is onbekend, maar ons weet uit die Marburger Sippenbuch, dat sy ouers Johann Henrich Conradi en Anna Elizabeth Schneider se gebooie op 22 Sept 1667 in Marburg geloop het - Friederich se jonger suster is op 14 Nov 1669 in Marburg gedoop - die logiese afleiding is dus dat Friederich gedurende die jaar 1668 gebore is. Op 16 Okt 1682 word Friederich ingeskryf by 'n Gimnasium (skool) in Marburg. Gedurende 1688 vertrek hy, op ouderdom 20 jaar, uit Marburg op die eerste been van 'n uittog wat hom uiteindelik, vroeg in 1689, as soldaat, na Kaap die Goeie Hoop sou bring. Oor sy beweegredes om Marburg te verlaat kan ons tans net spekuleer. Hy kon bloot werk gaan soek het in die destydse voorspoedige Nederland en is uiteindelik so as soldaat in diens van die VOC geneem, en toegewys om na die Kaap te gaan.

Friederich het ongeveer 500km vanaf Marburg (A) na Nederland gegaan op 'n soektog na werk, wat hom uiteindelik as soldaat, in diens van die VOC geplaas het, en van waar hy in 1688 met die boot WAPEN VAN ALKMAAR van af Texel (B) vertrek het na die Kaap. Baie Duitsers het destyds as soldate by die VOC gewerk.
- Die skeepsoldyboeke van die Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) in die Nationaal Archief in Nederland ontsluit vir ons konkrete inligting oor ons Conradie-stamvader: "Frederick Coenradi uit Maerburgh" het op 27 Julie 1688 as soldaat in diens van die VOC getree, en het op dieselfde dag op die skip Wapen van Alkmaar uit Texel (Nederland) na Kaap de Goede Hoop vertrek. Aan boord het die skip 121 matrose gehad, 86 soldate (waaronder Frederick) en 43 passasiers - 42 van laasgenoemde was Franse Huguenote op pad na die Kaap. Die vaart na die Kaap het 6 maande geneem - ander vaarte van die Alkmaar het meer dikwels 5 maande en selfs 4 maande geneem. Volgens die skeepsrekord het 37 matrose op die vaart na die Kaap gesterf, maar geen soldate of passasiers nie. Altesame 44 soldate, insluitend Frederick Coenradi, het op 21 Januarie 1689 in die Kaap aan wal gegaan om hier diens vir die VOC te doen. Frederick Coenradi tree op 31 Desember 1691, na ongeveer 3 en half jaar, as VOC soldaat, uit diens omrede hy op 1 Januarie 1692 'n Vryburger aan die Kaap word. (Frederick is in 1668 gebore, en was dus nou 24 jaar oud. Hy sou eers 11 jaar later, in 1703, trou)

- Die Wapen van Alkmaar was 'n pinas tipe seilboot, wat algemeen deur die VOC gebruik is - ten minste 81 se name word gelys. Die boot is in 1671 vir die kamer van Amsterdam in die Enkhuizen VOC-werf in Amsterdam gebou. Dit was 160 voet lank, 38,25 voet breed, en die "holte" (die deel onderkant die laagste opening in die boeg) was 13 voet diep. Die boot se laaivermoë was 892 ton en dit kon 260-300 mense dra. Die Wapen van Alkmaar het 'n goeie aantal suksesvolle vaarte onderneem; Op 1 Junie 1690 vertrek 'n armada van bote vanaf die Kaap terug na Zeeland - na maande op die see en naby die Shetland-eilande beland hulle in 'n woeste storm, en in een van die grootste rampe wat die VOC getref het, vergaan vier bote - Wapen van Alkmaar, Kapelle, Pijlswaart en Land van Schouwen - meer as 3000 ton in totaal.
- Die stamvader se naam verskyn NIE in die Monsterrolle vir die jare 1685, 1686 of 1688. Die Monsterrolle het net Vryburgers se name gelys en nie persone wat in diens van die HOIK/VOC was nie. In iedergeval verwag ons nie om sy naam daar te sien nie, want hy het eers in 1689 na die Kaap gekom, en eers aan die begin van 1692 'n Vryburger geword.
- "Fredk. Coenrade v. Maarburgh" se naam as Vryburger aan "die Kaap" is opgeteken op bladsy 153 van 1695 se Monsterrol.
- Die naam "Frederik Coenraads" [hoogs waarskynlik ook ons stamvader] verskyn as Vryburger op bladsy 18 in die afdeling " ’t Caabse district" in die "Monsterrol van de vrije luijden opgemaaket 23 Januarij 1702"

1703 Huwelik: COENRAAD x HARMENTZ [Klik op beeld vir groter weergawe]
- Op Sondag 7 Oktober 1703 (op 35-jarige ouderdom) trou "Fredrik Coenraad van Marburg jonkman, met Hermina Harmentz van Toderwaart, jongd." in die Kaap. (Nederduitsch Gereformeerde Kerk, (Kaapstad), de Caep de Goede Hoop. [Kyk ook LDS register mikro-film bladsy] "Toderwaart" verwys na die huidige dorp Dodewaard in die Nederlandse provinsie Gelderland. (Dit is aan my onbekend op welke manier Hermina Harmensz na die Kaap gekom het - saam met haar ouers of as 'n weeskind?) Die korrekte spelling van Hermina se "van" of tweede naam sal moontlik nooit vasgestel kan word nie. Ons kies steeds, na heroorweging in 2012, om haar naam as Hermina HARMENSZ te skrywe. Tot 1811 het die Nederlanders "vanne" gebruik wat op die vader se naam berus het - die sogenaamder patronimiese naamgewing - die kind se "van" of tweede naam het die vader se naam+'n agtervoegsel gekry. Hier is 'n voorbeeld: Harmina HARMENS, geboren te Vollenhove, gedoopt (N.G.) op 14-05-1699 te Vollenhove, dochter van Harmen GERRITS en Aeltjen HENDRICX. Dit is amper ons stammoeder, maar sy is darem so 20 jaar te jonk! "Harmen" was in daardie tyd 'n baie gewilde mansnaam, en so het ons baie HARMENSZ kinders gekry wat eintlik geen naby familie van mekaar was nie - die van het bloot na die pa se naam verwys --- iets soos "Hermina, kind van Harmen". Ons stammoeder se naam verskil vir elke opskrywer (by troue, doop of doopgetuie) - hier is variasies: HARMANZE, HARMENS, HARMENSZ, HARMENTZ, HERMINSE. Volgens die VOC-soldyboeke het byna 240 HARMENS persone vir die VOC gewerk, maar 499 HARMENSZ persone was op die soldyboeke.
- Nadat Hendricus Munkerus, woonagtig in die Kaap - 'n baie vermoënde man volgens sy boedel, in lewe "Onderkoopman en Kassier in diens den E: Comp:e aan Cabo de Goede Hoop" op 29 Jan 1705 sterf, meld sy finale inventaris (MOOC8/2.8) op 20 Mei 1707 dat hy op 2 Aug 1704 'n "onderhandsche obligatie ten lasten van Fredrik Conradij .... ter somma van Rd:s100:00" toegestaan het - maw hy het die geld aan Frederick geleen.
- Nadat die stamvader in 1692 'n Vryburger geword het, en tot daar tekens is dat hy in Drakenstein 'n wynboer geword het, is ons tans nie seker wat hy gedoen het terwyl hy nog aan die Kaap gewoon het nie. Daar is spekulasie van 'n Herbergier of Traverne eienaar, maar stawende inligting moet nog gevind word.
- Tot waarskynlik 1704 het Frederich en Hermina nog in die Kaap gewoon, maar teen die jaar 1707 moes hulle reeds na 'n plaas in die Drakenstein omgewing verhuis het, want hulle tree op as doopgetuies by Drakenstein gemeente: "1707; 8ste Octob]; Derk; d'Vader Ary Derkse van Neck, d' Moeder Anna Esser. Getùygen Frederik Coenraad, en Armina Coenraad"
- Op 26 Mei 1708 wys 'n inventaris (MOOC8/2.24) dat hy op 'n veiling te Drakenstein 1 trekos en 'n koei teen Rds17:1 uit die boedel van wyle Susanna de Vos gekoop het.

Johannes Henricus Conradi se doop inskrywing 21 September 1710 in die register van die NG Kerk de Caep de Goede Hoop. Wanneer Johannes volwasse is, word daar meestal na hom verwys as Jan Hendrik Coenradi. [Klik op die beeld vir meer detail] Die spelling "Marpurg" in die doopinskrywing is nie foutief nie - die houtsneewerk hier onder toon dat dit inderdaad destyds so geskryf was - dit saam met die spelling van "Conradi" en "Henricus" toon dat die inskrywer welgeleerd was!
- Eers na 7 jaar van getroude lewe, toe die stamvader reeds 42 jaar oud was, is daar 'n kind wat gedoop word. Die dooprekord vir die egpaar se eerste kind is opgeneem op 'n LDS mikrofilm kopie van bladsy 97 van die register van die NG Kerk de Caep de Goede Hoop. Die seuntjie is gedoop op Sondag 21 September 1710 en die doop het oënskynlik saam met twee ander dooppare in die kerk in Kaapstad gebeur. Let op hoe ons stamvader seker gemaak word dat sy eerste seun duidelik na die seun se oupa in Marburg vernoem word. Die inskrywing lees "Johannes Henricus van Fredrik Conradi van Marpurg, en Hermina Hermansz. di Getuigen Robbert Robbertsz. en Neeltje Slabbaarts." Nota: die doopgetuies is een van die stamouers van die Brand-familie in SA soos gemeld op stamouers.com: Robert Roberts BRAND van Oslo in Noorwee het getrou op 21 November 1700 met Cornelia (Neeltjie) SLABBERT en sy was van Meliskerke in Nederland.
- 'n Erfbrief (bewys van eienaarskap) word op 11 Mei 1712 aan Friedrich Conradi uitgereik as eerste eienaar van die plasie Werda, met oppervlakte 30 morg 403 vk. roede. Letop, uit voorafgaande inligting, dat Friedrich reeds in 1707 en 1708 in Drakenstein aktief was. 'n Erfbrief is gewoonlik 3 of meer jaar nadat grond aan 'n landbouer toegesê is uitgereik. Dit het die boer geleentheid gegee om die nuwe plaas mak te maak en verbeterings aan te bring. Ons aanvaar dus dat Friedrich op die minimum reeds in 1707 op die Werda plasie aktief was. Die plasie, geleë in die veldkornetskap Groot Drakenstein, was in die onmiddellike omgewing van die huidige Simondium. ('n "WERDA" plaasnaambord kon nog relatief onlangs daar gesien word.) Daar is min twyfel dat Friedrich die plaas Werda genoem het na die dorpie Wehrda (vandag deel van Marburg) in Hesse waar sy vader 'n Lutherse predikant was. Die ooreenkomste met die landelikheid van Wehrda, die Lahnrivier en -berge, is vandag in die omgewing van Simondium steeds baie sigbaar - met die omliggende berge en die Bergrivier.

Die grenslyne van die oorspronklike 1712 "Werda" plasie is by benadering aangebring. Dit was ongeveer 2000 meter op die langste deel, en 1000 meter op die wydste deel. Om op te som - as 'n mens met die R45 van Simondium rigting Franschhoek ry, dan ry jy oor 'n gedeelte van die oorspronklike 1712 Werda plasie.

Hierdie plaashek lei na 'n 4 hektaar kleinhoewe met moderne huis wat 300 jaar later steeds die naam "Werda" dra. Regs van die palmboom-laan lei die pad na die "Rhodes Food Group" (bord regs in foto) perseel. (2010 foto - Google Earth - Die GPS posisie is: 33 51.219' S 18 58.090' E.)
- Solank as wat Friedrich Conradie en Harmina Harmanze op Werda gewoon het, was een van hulle naaste bure (binne gemaklike stap-afstand) Willem van Zyl en sy vrou Christina van Loveren op die plaas Vrede en Lust (vandag teenoor Simondium) . Op hierdie plaas het die omliggende Vryburgers Sondae byeengekom vir godsdiensbeoefening. Na kerk was dit dan ook gerieflik vir die kerkgangers om hulle weeklikse benodighede by die plaaswinkel op Vrede en Lust aan te koop.(bron pdf: The History of Vrede En Lust)

1710 Drakenstein - Skets van EV Stade (klik op beeld vir meer detail) (bron Kaapse Argief Depot)

Lees ook meer hieroor by:
-
-
-
BRONNE:
* With special thanks to Delia Robertson.
|
|